17/04/2026
Daar is wonderwerke wat God in die openbaar laat gebeur. Die soort wat mense laat stilstaan en sê: “Sjoe, kyk wat het die Here gedoen.”
Maar dan is daar ander.
Die soort wat Hy bêre vir die plek waar jou hart nog rou is. Waar jou hande nog bewe en waar jou asem nog kort is as gevolg van die laaste storm.
Die weduwee het daardie soort geken.
Met leë kruike wat soos stukkende gebede oor haar vloer versprei lê en ’n tekort wat soos ’n koue wind teen haar rug gedruk het, het sy iets gedoen wat vir die wêreld naïef sou lyk.
Sy het die deur toe gemaak.
Nie om weg te kruip nie.
Nie omdat sy bang was nie.
Maar omdat sy ’n besluit gemaak het wat net geloof kan maak.
“Ek vertrou God só volledig, dat ek nie eers wil hoor wat ander d**k nie. Ek sien dit as klaar gedoen.”
Daardie deur was nie ’n grens nie.
Dit was ’n verklaring.
’n Profetiese gebaar.
’n Sagte skreeu van geloof wat gesê het:
“Ek glo U sal voorsien. Ek glo U sal vermeerder. Ek glo U sal doen wat U gesê het.”
Sy het die deur toegemaak omrede sy geweet het dat geloof soms die geraas moet uitsluit om die fluistering van God te hoor. Agter daardie deur was daar geen toeskouers nie. Geen opinies nie. Geen mense wat haar tekort meet of haar logika bevraagteken het nie. Net ’n vrou, haar kinders, ’n klein kruik olie en ’n woord van God wat sy vasgehou het soos asem.
En dit was genoeg.
Sy het logika buite gehou wat sou sê:
“Dit is te min.”
Sy het vrees buite gehou wat sou fluister:
“Dit is verby.”
Sy het selfs die behoefte om te verstaan buite gehou. Want geloof vra vir gehoorsaamheid.
Sy het die olie begin uitgiet.
Nie omdat sy oorvloed gesien het nie, maar omdat sy alreeds die uitkoms in haar hart gesien het. Sy het gegiet asof dit klaar gedoen was. Asof God alreeds voorsien het.
Asof die kruike alreeds vol was. En druppel vir druppel het die belofte begin ontvou.
Die olie het nie geluister na beperking nie. Die tekort het nie ’n sê gehad nie. En in daardie afgesonderde, heilige ruimte het God gedoen, wat net God kan doen. Hy het vermeerder wat onvoldoende lyk totdat dit oorloop in meer as genoeg.
Die olie het nie opgehou vloei omdat God klaar was nie. Dit het opgehou toe daar nie meer kruike was nie. Want God vul altyd die kapasiteit wat jou geloof durf voorberei.
Hy vul altyd die ruimte wat jou gehoorsaamheid oopmaak.
Hy vul altyd die plek wat jou vertroue vir Hom ooplos.
Mooiste mens, dit is tyd om die deur toe te maak. Nie om weg te kruip nie, maar om ’n verklaring te maak. Om te sê: “Ek vertrou God só volledig, dat ek nie meer ’n plan B nodig het nie. Ek sien dit as klaar gedoen."
Dit is tyd om die geraas buite te laat.
Tyd om die behoefte aan verduideliking stil te maak. Tyd om jou laaste bietjie hoop, jou klein kruik geloof en ou brose vertroue voor God uit te giet.
Want wonderwerke begin nie met oorvloed nie. Dit begin met totale oorgawe. Met ’n deur wat toemaak en ’n hart wat sê:
“Here, ek glo U.”
En wat God agter jou geslote deur doen.
In die plek waar jou geloof rou, eerlik en onverdeeld is, word dikwels die getuienis wat geen menslike hand ooit sou kon skryf nie.
Maak die deur toe.
Nie omdat jy alleen is nie.
Maar omdat jy uiteindelik verstaan:
Dit is nou net jy en God.
En dít… is waar die wonderwerke alreeds begin het.
©️2026 Pragtige JY - Is Genoeg
Kopieëreg ~ Juanita Grobler