02/04/2022
Vandag is .
Volgens Children's Hospital of Philadelphia is die waarskynlikheid vir seuntjies om met gediagnoseer te word, vier keer meer as dogtertjies. Terselfdertyd wys navorsing dat meer dogtertjies moontlik in die toekoms gediagnoseer kan word met nuwe toetsmetodes, omdat dogtertjies anders as seuntjies toets.
Hier is Abby se deernisvolle storie:
🟡 Op watter ouderdom is julle dogtertjie met outisme gediagnoseer? Wanneer en waarom het julle begin wonder en kopkrap?
Abby is op 2.5 jaar oud gediagnoseer as outisties. Ons het op so 2 begin bekommerd raak oor haar ontwikkeling wat 'n bietjie agter was. Sy het die paar woordjies wat sy gehad het, verloor en was geneig om baie emosioneel te reageer in stresvolle situasies. Ons pediater het ons gevra om haar na ‘n pediatriese neuroloog toe te vat vir ‘n diagnose.
🟡 Dit is raar vir dogtertjies om met outisme gediagnoseer te word. Hoe het julle die diagnose verwerk?
Dit is ‘n baie emosionele en moeilike tyd wanneer jou kind gediagnoseer word. Jy hou aan hoop dat iemand êrens ‘n fout gemaak het. Ek het nagte om gelê en bid dat my kind môre-oggend vrolik in my kamer gaan in huppel en net begin babbel soos ander 3 jariges. Dit vat baie lank om rêrig tot by ‘n punt van aanvaarding te kom en ‘n mens se emosies ry wipplank met jou: Een dag voel jy of al’s OK gaan wees, en die volgende dag wil jy weghardloop en jou kind saamvat.
Dis baie belangrik om jouself nie die ‘rouproses’ te ontneem nie. Jy het nodig om te huil, af te pak by ‘n vriendin of familielid, kwaad te wees en vrae te vra. Ja, jy moet sterk wees en positief bly, maar om in ontkenning te lewe, gaan nie jou of jou kind help nie.
Omring jouself met mense wat omgee, vriende, familie, kollegas wat nie bang is om daaroor te praat nie. Maak ook vriende met ander ouers wat in dieselfde posisie is, dit help baie!
Vra vir hulp wanneer dit nodig is. Hulle sê mos: “It takes a village to raise a child”. Steun op jou village!
🟡 Watter wenke het julle vir ander ouers wat kinders op die outisme-spektrum groot maak?
Dit kan baie oorweldigend wees en ons almal het ander maniere om dinge te hanteer. Probeer kalm bly en vat dit dag vir dag. As jy begin navorsing doen gaan jy sien daar is duisende opinies op die internet oor wat jy kan doen om jou kind te help. En tog is daar nie ‘n ‘miracle cure’ nie. Wat vir een kind help, help dalk nou weer glad nie vir jou kind nie.
My advies is om te prioritiseer. Maak ‘n lysie van jou kind se top 3 uitdagings en begin daar. Hetsy dit deur sekere terapie of dieet of medikasie is. Toets wat werk vir jou kind en as dit nie werk nie, beweeg aan.
Baie belangrik: Moenie ophou lewe nie. Al is dit moeilik, probeer om nie ‘n kluisenaar in jou huis te word nie. Dis soms moeilik om uit te gaan en sosiaal te verkeer. Maar maak planne, kies die vriende waar jou kind meer gemaklik is, kies tye van die dag wat jou kind se beste tye is, of as dit rêrig nodig is, vra ‘n ouma of vriendin om na jou kind te kyk terwyl jy byvoorbeeld ‘n troue bywoon.
🟡 Hoe kan ander ouers / familie / vriende ouers met 'n outistiese kind ondersteun?
Praat met my oor my kind. Moet dit asb nie ignoreer omdat jy ongemaklik voel daaroor nie. Net soos wat ons kan praat oor ons ander kinders se hokkie/netbal/rugby of konsert waaraan hulle deelneem, wil ek praat oor my kind. Dis my lewe, jy hoef nie sleg te voel daaroor nie.
Nooi my vir ‘n braai en as ek nee sê, nooi my weer volgende keer. Vra dalk of dit vir my gaan makliker wees by my eie huis. Partykeer is dit makliker vir my kind waar sy in haar eie omgewing kan wees.
🟡 Wie is jou dogtertjie sonder outisme? Wat is jou drome vir haar?
Abby is die vriendelikste mensie wat jy ooit sal ontmoet. Sy het ‘n glimlag wat harte kan breek! Sy is lief vir diere en sal enige iets eet wat jy vir haar gee! My grootste droom vir haar is ‘n mate van onafhanklikheid. Ek wil hê sy moet kan kommunikeer hoe sy voel, waarvan sy hou, waarvan sy nie hou nie, en ook as sy nie lekker voel nie.
Al daai dinge wat my ander kinders as vanselfsprekend aanvaar. Die belangrikste van alles is dat sy gelukkig en geliefd sal wees, ongeag haar diagnose.
-----
Ons het beslis BAIE geleer die afgelope 3 dae - stories is so kragtig, veral in ouers se eie woorde oor hulle kinders en / of hulself. Ons sal beslis meer en meer wil leer om 'n beter village te wees vir dié om ons wat daagliks die uitdagings moet face wat met gepaard gaan.
➡️ Deel gerus jou en jou gesin se -storie in die comments hieronder. Elkeen se storie is uniek en ons sal graag nóg meer wil leer.
Liefde
Die Naguilklub ♥️