24/10/2025
My Makulêre Degenerasie pad
Elize Reynecke
***************
Nooit het ek die gedagte gehad,
Jare gelede gehoor en dit net so gelaat.
Toe ek opgee oor my oë kom ñ Engel in die vorm van my kind,
Sê "aanhou probeer" ... met BackaBuddy" sal ons ñ weg dalk vind.
Om my gesig te wys en die waarheid te lees,
Die besef sink in, volstruiskop in die sand gewees.
My oë het nie slegs ñ impak op my,
My hartsmense besef die toestand en ly.
Vir jare loop ek met die bevinding reeds rond,
Maar nou eers vind die waarheid my stem en my mond.
Ek onthou Tygerberg se lang gange en my dogter se oë so blou
Ons lag-huil-gesels en maak ñ "bucket list" vir nou,
Nooit die "bucket list" gedoen want "die lewe gebeur",
Nou bly net oor om ñ nuwe lys te maak en my "uitstel" af te leer.
So baie wat ek nog wil beteken, doen en uitleef!
Fotografie, skryf en lees, kuns doen en kan sien, dis waarna ek streef!
Streef het verander in ñ wens,
Wens het verander in "as ek maar net kon sien deur ñ nuwe lens".
Lang storie kort, Makulêre Degenerasie is soos ñ doodsuitspraak vir jou oë se lewensduur,
Elke dag vat die dof ñ nuwe deel van sien en jy moet jou lewe in ñ ander koers begin stuur.
Party dae voel beter en die mistigheid is min,
Ander dae sien jy nie die letters in ñ duidelike sin.
Lyne is skeef, woorde swem rond,
in die middel swart kringe of kolletjies jaag rond.
As jy nie AMD het nie of dit nie ken,
Onthou ons is ook verward en weet net ons moet ons oë terugwen.
Ons almal is nie gereed om ons sigprobleem bekend te maak,
Party mense sê dat dit na "simpatie soekery" smaak!
Die wéreld is vol aanvalle, veral die wat nie verstaan ...
Maar kom stap in ons AMD skoene en belowe geen traan ...
Jy gaan mense wen vir dieselfde redes en geveg,
Jy gaan mense verloor omdat hulle nie belangstel in jou AMD-weg.
Hou vas, hou jou "bucket list" iewers waar dit saakmaak,
Moenie dit uit moedeloosheid op enige plek neerplak.
My "bucket list" met my dogter van jare gelede is in my Bybel en ek lees dit gereeld,
Sal nooit alles daarop kan doen met dieselfde oë, maar my hart onthou nog die helder beeld.
Net soos julle het ek ook baie vrae,
Soveel passies wat ek nog wou indruk in dae.
Die tyd raak min en elke toets stel teleur,
Die inspuitings is seer en moet gereeld gebeur ...
Hoe weet jy wanneer om op te gee, te stop?
Help inspuitings regtig of is die hoop net in ons kop?
Ek is te bang om my nuwe "bucket list" te maak,
Dit wat ek wil skryf is dalk klaar reeds te laat ...
ER
23 Okt 2025