29/07/2017
Bekendes
FOTO Leana Clunies-Ross
Verwante Artikels
◾Bertha le Roux se dieet gaan ‘viral’
◾5 top-produkte vir droë naels wat maklik breek
◾SUIKER: Dís wat dit aan jou doen
◾Bertha: ‘Hansie bly deel van my storie’
27 Julie 2017
Het jy gehoor?
Bertha le Roux se dieet gaan ‘viral’
deur Fanie Cronjé
Deel
Twiet
Pin dit
E-pos
Druk
Die afgelope week het ’n storie oor die voormalige 7de Laan-aktrise Bertha le Roux se dieet wat vroeër jare in SARIE was, weer op sosiale media gedraai. Die storie het gou soos ’n veldbrand versprei soos mense dit gelees en gedeel het, maar baie het nie besef dis reeds in 2009 geskryf nie. Komplimente vir die “slanke” Bertha het ingestroom.
“Ek was aanvanklik geïrriteerd toe ek sien die storie doen die rondte, want dis al so sewe of agt jaar terug gedoen. Maar dit was uiteindelik ’n wonderlike inspirasie vir my toe ek sien waar ek eens was en hoe ek kan lyk,” het Bertha, wat deesdae elke Donderdagoggend die program Vreugde & Joy op Radio Kansel aanbied, gister aan SARIE gesê.
In die storie in die April 2009-uitgawe vertel Bertha sy het sowat 10 kg afgeskud met Weigh-Less en toe nog 15 kg met dr. Cohen’s 1st Personal Diet. In die foto’s smeul sy in ’n bloedrooi Spaanse rok.
FOTO: Clinton Lubbe
Bertha het ook al in die Maart 2005-uitgawe met SARIE oor haar gewigsverlies gepraat. Die tydskrif met haar op die voorblad het binne twee weke uitverkoop. Sy het toe byna 10 kg met die hulp van die Herbalife-dieet verloor. “Ek weet self nie presies wát mense so aangegryp het met daardie voorblad nie,” sê sy. “Dalk het dit iets te doen gehad met die opskrif dat ek my maerword-geheime verklap. En mense was toe ook so lief vir Emma (Bertha se karakter destyds in 7de Laan). Buiten ’n Huisgenoot-voorblad was dit my eerste groot formele tydskrifvoorblad.”
Hier is Bertha op haar heel eerste SARIE-voorblad in Mei 2005.
Gedurende haar swangerskap met haar eerste dogter, Kiana, het Bertha weer gewig aangesit. Die sepievervaardigers het haar gevra om die ekstra gewig te verloor. Dit was toe dat sy by Weigh-Less aansluit het, maar het daarna weer gewig opgetel. “Ek het toe vir drie maande intens ge-gim. Ek was fiks, maar steeds rond. Ek het ’n foto van myself gesien met die spiere én die vet en besef dis glad nie hoe ek wil lyk nie.”
Hennie Jacobs (Diederik van 7de Laan) se vrou, Marissa, het Bertha kort daarna aan dr. Cohen se dieet bekend gesel. “Dis ’n verskriklike moeilike dieet.” Dit is hierdie storie wat sy in 2009 met SARIE gedeel het.
Met die swangerskap van haar tweede dogter, Brioné, het sy weer gewig aangesit. “Dit was asof my lyf net groter wou wees, en ek kon daarna net nie weer die gewig verloor nie. Ek het ’n vreeslike soettand. Ek is te lui om daardie Banting-sweeties te maak en te arm om dit te koop,” spot sy.
“Dit was uiteindelik ’n wonderlike inspirasie vir my toe ek sien waar ek eens was en hoe ek kan lyk.” – Bertha le Roux
Bertha glo jy moet ’n kopskuif maak om gewig te verloor en dit af te hou. “Ek was maar ’n kind toe iemand vir my gesê het ek is ’n ‘vet koei’ en ek was nie eens vet nie. Dit het in my kop vasgesteek en my laat glo dat ek ’n vet mens is.”
Nadat Bertha vandeesweek weer die storie oor haar gewigsverlies gelees het, is sy vuur en vlam om die kilo’s af te skud. “Watch this space. Ons praat weer oor ses maande.”
Hier is Bertha in SARIE se April 2009-uitgawe.
FOTO: Christo Lubbe