09/06/2025
Swael grondontledings (grond-S-ontledings)
Plante bevat oor die algemeen dieselfde hoeveelheid swael en fosfor. Plante neem swael (S) in die vorm van sulfaat (SO42-) op. Swael bevorder die vorming van Chlorofil, asook die aantal knoppies aan die wortels van peulplante.
Proteïengewasse het ‘n baie groot behoefte aan S omrede dit baie belangrik is vir proteïensintese. Gewasse soos kanola benodig drie keer meer S as fosfaat (P). Sulfaat is hoofsaaklik afkomstig vanuit die mineralisering van organiese materiaal, oksidering van S-bevattende minerale, bemesting, asook sogenaamde suurreën.
Daar bestaan verskeie ontledingsmetodes om grond-S mee te bepaal (ekstraheer). Die Ca(H2P04)2-ontleding toon die beste korrelasie met mielie-opbrengs, en dit is die rede hoekom hierdie metode addisioneel tot die ammoniumasetaat ekstraksie gebruik word om S-behoeftes mee te bepaal wanneer grondmonsterneming deur Kynoch uitgevoer is, en laat ontleed is by ‘n onafhanklike laboratorium. ‘n Drempelwaarde vir grond-S vir Suid-Afrikaanse omstandighede is ontwikkel uit navorsing. Sekere interessante waarnemings is ook gemaak, naamlik hoe verder grondmonsters vanaf groot industriële areas geneem word, hoe laer is grond-S-vlakke. Verder, was 70% van die grondmonsters wat ontleed was in die Wes-Vrystaat en Noord-Wes, 40% in die Oos-Vrystaat en 20 % in Mpumalanga, geassosieer met lae S-vlakke; op hierdie gronde sal S-bemesting lei na positiewe plangroeireaksie.
Gevolgtrekking:
Indien grondontledings gedoen word, is die Ca-fosfaat ekstraksiemetode ‘n verkose metode vir Suid-Afrikaanse omstandighede. Dit lewer meer konstante en akkurate waardes as ander opsies, selfs ten opsigte die ammoniumasetaat metode. Die waardes is nie opportunisties nie en positiewe gewasgedrag kan verwag word indien bemesting uitgevoer word. Onthou dat S-bemesting nie noodwendig opbrengs verhoog nie, maar het beslis groot impak op graankwaliteit en gesondheid (indirekte voordele wat beter graanpryse kan verseker).
Brone:
*Bemestinghandleiding 2016 FERTASA
*LISLE, L., LEFROY, R., ANDERSON., G & BLAIR, G, 1994. Methods for the measurement of sulphur in plant and soil. Sulphur in Agr. 18, 45-54.
*Van Biljon, J.J, Fouche, D. and Botha A.D.P. Threshold values for sulphur in soils of the main maize-producing areas of South Africa. S. Afr. Tydskr. Plant Grond 2004,21(3).
Saamgestel deur:
Renier Bothma, Kynoch