31/03/2026
Die mense wat ek liefhet, weet al dat geen nuus van my af, byna nooit goeie nuus is nie. As ek swaar kry dan rol ek soos ʼn shongololo op en my woorde droog op.
Die laaste 2 maande was vrek swaar. Kanker 2 Mons 0.
Ek weet nie of my liggaam net sy versadigingspunt bereik het van gif nie, en of die ascites en groeiende massa in my buik bydra nie. Maar my lyf is vuisvoos en ek kry swaar. Daar is ʼn permanente kateter in my buik om die dreinering van vog by die huis moontlik te maak. Die week of wat na die prosedure was 1 groot wasem van pyn gewees. Ek was na ʼn week vasbeslote dat ons hom eerder moet verwyder. Gelukkig het ek ʼn sagte en geduldige swaer en hy het ʼn klomp wonderlike kollegas, en tussen Wim en sy vriende Charlie en Piet, saam met raad van ons liewe Johan hier op Vredendal het ek besluit om maar vir die drs te luister en nog so ʼn ruk vas te byt. En ek is dankbaar dat ek het. Met dieselfde passie en presisie waarmee Vicci sy vishoeke en stroppe en leaders knoop het ons nou ʼn seepgladde stelsel om my buik te dreineer en dit gee ons ʼn mate van beheer oor ons lewenskwaliteit. Mense het kom kuier. Janneke en Marianne het uit Heidelberg uit gery vir ʼn aand en op die ou end met Vicci en die meisies gekuier terwyl ek in en uit van diep slaap gedwaal het. Tannie Hanje het vir my chemo toe gery en die troos van iemand wat kanker en chemo aan haar lyf ken was kosbaar. Rochellie het vir 2 dae kom huis hou en my in ʼn bad in gesleep en saam met my gehuil oor als wat op sy kop is. Jacques was hier en het saam met sy mooiste foto's vir my laat onthou hoekom sommige mense in en uit ons lewens beweeg en ander vasplak. Ek is bly dat Jacques ʼn vasplak vriend is. Anina het op my bed by my kom lê en vir my laat onthou dat ek ook nie altyd vir almal hoef reg te staan nie. Soms kan ek ook gedra word. My niggie Heidi en haar man het uit Natal uit kom kuier. Haar ma, ons liefste tannie Carmen, is dood aan kanker toe sy so oud soos ek was. Dit was ʼn mooi, kosbare weersiens.
Ek gesels weer met Petri. Soos wat my liggaam swakker word, spook die dood en my kinders en al die groot onbekendes maar weer by my. Ek huil baie. Ek wil nie doodgaan nie. Ek het so ʼn wonderlike lewe. Ek het ʼn man wat mal is oor my en saam met wie ek wil oud raak. Ek wil kan bywees as hy die wêreld se beste oupa word. Ek en hy het nog so baie planne. Ek wil nie hoor dat hy en ons kinders OK gaan wees nie. Ek wil by hulle wees!! Ek is dankbaar dat Petri my help om te sit in al hierdie swaar emosies. Ook dat ek mag kwaad wees en seer voel oor dinge in my lewe waar ek heeltemal te na gekom is. Om te verstaan dat ek nie skielik die engel Gabriel is nie en dat dit OK is om soms woedend te voel.
My lyf verloën my. Ek het my uitbundigheid en drif verloor. Nie omdat ek moedeloos is nie, maar sommer omdat my liggaam te swak is daarvoor. Dis als goed wat tyd vat om deur te werk en ek probeer myself die tyd gun om dit te doen.
So as ek nie dadelik op boodskappe reageer nie. Of soms glad nie. Asb moenie ophou nie. Ek lees alles en koester dit. En deur als bly ons hoop vir ʼn wonderwerk en druk ons elke druppeltjie vreugde uit wat my krag vir my toelaat. ❤️