01/12/2025
Hierdie is nie my skrywe nie
Gecopy iewers van n FB blad af
Jy het haar dalk sien stap: die ou tannie met die kierie, stadig om nie te val nie, want sy is broos en as sy val is haar heup af. Sy probeer nog mobiel bly, maar is dalk al tagtig en onder pyn. Of jy sien die oom, ongeskeerd en met 'n stukkende paar skoene, want hy kry net Sassa en moet ook eet. Daar is nie nog geld vir klere, skoene of 'n lekkernytjie nie.
Toe ons in die Kaap gebly het, het ons eendag so 'n tantetjie ontmoet. Sy was 'n brose ou mensie en daar was gebrek in haar een slaapkamer huisie. Op haar ouderdom het sy nog omgesien na haar ou man. Ons het haar ontmoet toe ons ons oorskiet etes buite gaan neersit het vir die haweloses wat by die dromme kom snuffel het. Dit was netjies in polistereen bakkies opgedeel, ek wou hulle nie hul menswaardigheid ontneem nie.
Hier kom die tannie toe eendag na ons woonstel en vra of sy die etes kan kry. En natuurlik sê ons ja! Sy was duidelik behoeftig, hoe kon ons weier? En net daar neem ons die tannie aan, as soort van 'n tante. Ons het begin etes gee elke Vrydag, gewoonlik vis, slaaie en 'n nagereg, want Hennie ons broer het Vrydae huistoe gekom.
Hierdie verhaal wat ek vir jou vertel, is om die situasie vir jou te illustreer oor wat in senior burgers se lewens aangaan. Hulle mobiliteit is soveel minder. Hulle eet minder en ongesond. Van 'n lekker eetdingetjie is daar nie sprake nie. Higiëne gaan agteruit, klere en skoene is opgedra.
Dan kry jy hierdie skurke wat hul uitbuit wanneer hul vervoer moet word. Daar is nie geld vir pynpille nie.
Tannie Minnie het haar enigste seun jonk verloor. Sy het niemand anders gehad nie. Sy het aan die drink gegaan, ek d**k die innerlike pyn was net te veel.
Wat ek jou vandag wil vra, is om wanneer jy so 'n oom of tannie raakloop, net te begin gesels. Soms is hulle wantrouig, want hulle het diep seer gekry. Ander kere gaan hulle dit werklik waardeer, want hulle is eensaam, hulle het dalk net 'n kat of hond om mee te gesels, as hulle so gelukkig is.
Neem 'n oupa of ouma aan. Moenie hul lewens probeer oorneem nie, jy is nie 'n ouer nie. Wees net iemand wat liefde gee en bederf. Jy sal soveel seëninge ontvang.