Soos al ons vermoëns en sintuie, is ons gehoor onderworpe aan agteruitgang en verlies met verloop van tyd.
Om nie behoorlik of glad nie te kan hoor nie is een van die grootste hindernisse tot ʼn vol en normale lewe. Dit belemmer interpersoonlike en professionele verhoudings sowel as een van ons beste maniere om inligting te absorbeer. Kommunikasie en lewenskwaliteit word geaffekteer.
Dit is derhalwe belangrik dat jy jou ore se vermoë om te hoor en inligting in te win koester.
Is alle gehoorverlies dieselfde? Nee, dit is nie. daar is drie tipes gehoorverlies.
Geleidende gehoorverlies word veroorsaak deur probleme met die oorkanaal, oordrom of middeloor en sy klein beentjies. Tweedens word sensorineurale gehoorverlies veroorsaak deur probleme van die binne-oor, ook bekend as senuweeverwante gehoorverlies. Laastens word gemengde gehoorverlies veroorsaak deur ʼn kombinasie van geleidende en sensorineurale gehoorverlies. Dit beteken daar mag skade in die buite- of middeloor en in die binne-oor (koglea) of gehoorsenuwee wees.
Soos met enige vermoë van lewende organismes, gaan jou gehoor met verloop van tyd agteruit. Maar veroudering is glad en geheel nie die enigste oorsaak nie en daar is ʼn magdom redes waarom ons gehoorvermoë agteruitgaan.
Die vernaamste hiervan is harde geraas, wat baie oorspronge het. Langtermyn blootstelling aan harde geluide en geraas kan beduidende skade aan jou binne-oor aanrig. Dit is veral waar vir sensorineurale gehoorverlies.
Hierdie geraas kan op enige plek voorkom, gereeld maar ook minder gereeld. By sommige tipes werk is harde geraas ʼn gewone deel van die werksomgewing – soos boerdery, konstruksie of fabriekwerk – en kan tot skade binne-in jou oor lei.
Ontspanningsgeraas kan ook ʼn nadelige impak op jou gehoor hê. Blootstelling aan ontploffingsgeraas, soos dié afkomstig uit vuurwapens en straalmotors, kan onmiddellike, permanente gehoorverlies veroorsaak. Motorfietse en harde musiek val ook in hierdie kategorie.
In 2015 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)) gewaarsku dat om na harde musiek via oorfone te luister beperk behoort te word tot net een uur per dag met die volumevlak op slegs 60%. Jong mense is geneig om die volume te hoog te draai en gevolglik het gehoorverlies onder mense onder die ouderdom van 35 oor die afgelope dekade vermeerder – hoofsaaklik as gevolg van die verhoogde gebruik van mobiele luisterapparaat soos iPods en slimfone.
Om die geraasvlakke van verskillende bronne te illustreer, is die volgende gradering insiggewend:
ʼn Normale gesprek is 60 desibels en word as veilig beskou.
ʼn Wasmasjien is 78 desibels.
Swaar verkeer en ʼn grassnyer is 80 tot 90 desibels.
ʼn Motorfiets is 90 desibels en ʼn “rock” konsert is 100 desibels.
ʼn Ambulanssirene is 120 desibels en ʼn geweerskoot is 165 desibels.
Gehoorverlies kan ook oorerflik wees en jou genetiese samestelling kan jou meer ontvanklik vir gehoorverlies deur veroudering of harde geluide maak.
Medikasie en siektes is ook beduidende risikofaktore. Siektes wat hoë koors tot gevolg het, soos meningitis, mag die koglea beskadig. Antibiotika en sekere chemoterapie medisynes mag ook die binne-oor beskadig.
Meer spesifiek kan mens aan siektes ly wat jou ore en die vermoë om te hoor aantas. Volgens die Amerikaanse Gehoornavorsingstigting is “outo-immuun-binne-oorsiekte ʼn sindroom van progressiewe gehoorverlies en/of duiseligheid wat veroorsaak word deur teenliggaampies of immuunselle wat die binne-oor aanval”. Voorts is otosklerose ʼn oorerflike steurnis wat veroorsaak dat ʼn beenagtige groeisel rondom ʼn klein beentjie in die middeloor vorm, wat verhoed dat dit vibreer wanneer deur klank gestimuleer word.
Bronne:
Ossola, A. 2015. “World Health Organisation: Limit headphone time to an hour peer day”. 3 Mar. Popular Science, http://www.popsci.com/limit-headphone-time-hour-day-says-who.
American Hearing Research Foundation. 2015. “Auto-immune Inner Ear Disease (AIED)”. http://american-hearing.org/disorders/autoimmune-inner-ear-disease-aied/#whatis
Hearing Loss Association of America. n.d. “Types, causes and treatment”. http://www.hearingloss.org/content/types-causes-and-treatment.
Mayo Clinic. 2008. “Hearing risk factors”. http://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/hearing-loss/basics/risk-factors/con-20027684.