18/08/2024
Eenling is die mens gebore
in die diepste van sy siel
skuil 'n plek waar, mens-verlore,
hy in eensaamheid moet kniel.
as kristal en silwer skitter,
ligte vonkel in die wyn,
raak die vreugde soms verbitter
in die uur van samesyn.
in die wilde blom se prag
wat die lente oral sprei
skuil 'n trooswoord vir 'n dag —
en die weelde is verby.
rykdom weef met sagte hande
om party sy goue draad —
geen bevryding van die bande
waarin eensaamheid ons laat.
middernagtelike ure
kan die skim 'n tydjie keer;
spoedig val die brose mure
en ons sien die spookbeeld weer.
eenling is die mens gebore;
in die diepste van sy siel
skuil 'n plek waar, mens-verlore,
hy in eensaamheid moet kniel.
- I.D. du Plessis
📷 Mariana Brits, McDougallsbaai, Suid-Afrika