28/06/2012
NUUSBRIEF JUNIE 2012:
DIE VERSKIL:
Wat maak die verskil tussen ‘n wenner en ‘n verloorder? Hoe is dit moontlik dat ‘n persoon wat gediagnoseer word met ‘n terminale siekte, steeds positief kan bly? Wat maak die verskil dat ‘n persoon wat in ‘n rystoel sit, steeds ‘n lus vir die lewe het? Waarom kan ‘n ou omie wat sy dae omsit in die son, met geen familie, steeds tandloos glimlag wanneer jy nader stap, vra “Waarmee kan ek jou help my nooientjie?”
‘n Dierbare vriendin van Yăde het die afgelope paar weke gehoor dat kanker weer haar liggaam probeer vernietig, maar steeds is sy ‘n voorbeeld vir almal wat haar pad kruis. By Yăde het ons ‘n inwoner, Michael Botha, wat die afgelope naweek deelgeneem het aan ‘n rugby toernooi in Oos London. Wat noemenswaardig is van Michael, is dat hy al 12 jaar in ‘n rystoel is. Hy is ook besig om ander persone in rystoele te werf om deel te vorm van sy span. En dan dierbare Oom “S”, wat ons uit ‘n klein, donker kamertjie gaan haal het, wat so bly was oor ‘n paar skoene, ‘n ou horlosie, se gesig vertel die storie van sy lewe. Dit weerhou hom egter nie om blymoedig te wees nie en al kan hy beswaarlik beweeg, altyd bereid is om ‘n helpende hand uit te steek.
Dit is met skaamte wat ek my kop moet laat sak en maar net kan bid: “Here, vergewe my asseblief” Hierdie is slegs 3 voorbeelde van aardse engele wat berus in God se wil en hul lewenspad blymoedig stap. En toe kry ek die antwoord Sondag in die kerk.
"In this life you are either busy living or busy dying. The difference is hope" - Onbekend
Om hoop te hē, maak die verskil. Om selfs in die slegste omstandighede steeds te soek na die positiewe en net daarop te fokus. Om hoopvol te wees is om godsdiens prakties te leef.
Dit gaan goed by Yăde en daarvoor kan ons slegs God, elke donateur, vriend en ondersteuner bedank. Ons het komberse ontvang waarvoor ons baie dankbaar is. Ons het ook 2 anomieme kontant skenkings ontvang. U weet wie u is. Baie dankie daarvoor. Die fondse is aangewend om ons munisipale rekenings op datum te probeer bring. Dit is egter onmoontlik om elke donateur se naam te noem, maar weet verseker dat u bydrae ‘n groot verskil maak.
Die afgelope naweek was Yăde ook deel van die Can-Can projek by die Windmill Casino. Baie dankie vir elke persoon wat die reën aangedurf het en u bydrae gelewer het. Baie dankie ook aan Johan Gunter van Radio Rosestad vir al sy harde werk.
Yăde reik ook soms uit na ander instansie indien dit moontlik is. Die afgelope maand het ons uitgereik na die volgende organisasies:
Oranje Selfhelp, Amore tehuis, Torings van Hoop, Kids Heaven, Kinderhuis, Bloemwes kerk asook 7 gesinne. Hierdie organisasies reik op hulle b***t uit na Yăde indien hul oorvloed het. Huidiglik huisves ons ook ‘n sendeling en sy gesin gratis. Dit is egter hartverskeurend indien ons nie in ‘n posisie is om te help nie, maar ons eerste prioriteit bly steeds ons 183 inwoners. Hierdie aksie sal nie moontlik wees sonder u bydraes nie.
Yăde se persoonlike behoefte op die oomblik is:
Rys, Mieliemeel, Vleis, Koffie, Suiker, Olie , Volwasse doeke, Pleisters (Perforated tape ) en enige grote gaas (wond versorging). Ons het ‘n donateur, Onsdorp, wat op ‘n maandelikse basis vir ons R1000 se doeke aankoop, waarvoor ons ongelooflik dankbaar is. Ons het ook 3 donateurs wat direkte inbetalings maak by Kwik-P. Indien u hierdie roete volg, sal ons dit waardeer indien u ons asb net in kennis kan stel daarvan.
Ons het dit goed gedink om ‘n opsomming van die uitgawes vir doeke te verskaf, indien ons geen donasies sou ontvang nie:
12 inwoners x 6 doeke per dag =
72 doeke per dag x 30 dae per maand = 2160 doeke .
In ‘n pak is 14 doeke wat R98,00 per pak kos.
R15 119,00 per maand slegs vir doeke. Ons het meer as 12 inwoners wat doeke gebruik, maar hulle voorsien hul eie doeke.
Yade ondersteun egter 12 inwoners ten volle teen ‘n koste van R15 119,00 per maand.
LIEF EN LEED:
Oorlede:
• Veronica Smidt
• Curry Smit
• Cielie Du Plessis
Verjaarsdae:
• Ina Brand
• Koekie Cordier
• Leon Barends
• Hendrik vd Westhuizen
• Mina Gouws
• Gerhard Marx
• Burt v Jaarsveld
• Hannah v Jaarsveld
• Lindie J v Nuwenhuizen
• Jan Penz
• Emmie Bezuidenhoudt
• Lenie Fourie
Dit het onder ons aandag gekom dat ‘n storie versprei word dat Yăde se kantoor verskuif het. Dit is nie die waarheid nie. Ons kantoor is steeds by Haldonweg 10, Willows
Die kantoor nommers: 051-5222800 of 051-5226089
Yăde gaan met volle geloof ons 5de bestaansjaar binne. Ons glo dat ons in hierdie nuwe jaar die verskil sal kan uitleef tussen moedeloosheid en blymoedigheid. Dat ons sal leer by die aardse engele en dit toepas op ons persoonlike lewens en dat daar weer hoop geskep kan word vir ‘n bejaarde. Terwyl die winterkoue aan ons vel byt, bid ons dat u ook Jesus se warm liefde in u lewe sal ervaar.
There are two ways to live your life. One is as though nothing is a miracle. The other is as though everything is a miracle
-Albert Einstein
FONDSINSAMELINGS TEN BATE VAN YADE:
Prowlers Black Jack Run
1 September 2012
Kom geniet ‘n pret dag by Ramblers Klub
Stalletjies, speletjies, Springkasteel vir die kinders en nog baie meer
Begin 10:00 tot laat
Groot Pryse te wen
Vir enige verdere navraag kontak:
Peter Konig 0834517010
Shriley Matthee 0826983850
Ek is `n Sterprojek/Yade golfdag
2 November 2012 – Bloemfontein Golfklub
BBS-formaat
R150 per persoon
Goodybag ingesluit
Pryse vir:
LONGEST DRIVE
LONGEST DAY
NEAREST TO PIN
Middagete van R50
Navrae: Marlene Jooste
Van Rensburg Patoloë
051-4104081 of 0833814009
Indien u sou belangstel om betrokke te wees of ‘n bydrae wil lewer, skakel asseblief die genoemde kontak persone