31/01/2026
Januarie het vir baie van ons families, nie net ’n nuwe jaar gebring nie, maar ook stil en hartseer oomblikke van afskeid.
Vroeg in Januarie het ons die kis van Tiaan (19.11.1981 – 20.12.2025) saggies die kerk ingestoot, terwyl die Nuwe Apostoliese Brass Orkes sy oorskot met sagte, strelende note ingelei het—so gewy, so rustig… tog ,so finaal.
Tiaan het sy lewe verloor tydens ’n visvang-uitstappie saam met sy vriende.
’n Oggend wat beplan was om ’n uitputtende jaar af te sluit, het ontaard in ’n traumatiese geb***tenis waar vriende hom nodeloos by die ongevalle-afdeling ingedra het, op soek na hulp… maar die Here het dit anders bestem.
Kort nadat ons Tiaan se familie in Mitchell’s Plain ondersteun het, het ons die volgende dag by die Arendse-familie op Stellenbosch aangesluit.
Swaar harte en leë oë het ons begroet toe ons die kerkperseel binnegery het—die skok van Herman (02.03.1983 – 25.12.2025) se sterfte nog duidelik sigbaar in hulle oë.
Kersfees is gewoonlik ’n tyd van feesvier, maar vir die Daniels en Arendse -familie het die kers-tafel verander in ’n plek waar rou-beklaers saam met hulle gesit het—nie vir kos en lag nie, maar gedeelde oomblikke van trane en stilte.
Oom Haal( 18.05.1935 – 02.01.2026) se sterfte het ons die geleentheid gebied om deur die immergroen wingerde en groot trosse druiwe verwelkom te word.
Oom Haal, ’n boorling van Montagu, het in sy gryse jare by sy dogter kom bly op Stellenbosch - en dit het later sy laaste tuiste geword.
Die huislikheid en warmte waarmee ons ontvang was, kleef nog aan my vas. Tussen daardie mure was ons opgesweep met liefde—Oom Haal was geliefd… die middelpunt van sy familie ❣️
’n Koue Somerset-Wes-windjie het ons begroet op 15 Januarie 2026 toe ons Aunty Lisbeth (08.03.1961 – 16.01.2026) se dogter en familie voor die hospitaal ontmoet het.
’n Onsamehangende oproep het die hartseer realiteit aangekondig van haar mammie se skielike afsterwe.
Aunty Lisbeth SE dogter se hande wat bewend aan my vasklou—op soek na beskutting teen die pyn wat die dood gebring het—bly steeds helder in my geheue vasgevang.
Die Rynse Kerk, een van Stellenbosch se mooiste historiese bakens, was op 23 Januarie gekomplimenteer deur ’n stampvol kerk toe ons Aunty Rosy SE kis (22.06.1952 – 17.01.2026) al langs die voetpaadjie afgestoot het.
Die prentjie-mooi kerk was voltooi deur al die rou-beklaers.
Aunty Rosy se huis was vir ons ’n bekende plek—'n plek waar ons alles kon huur, van borde tot tafeldoeke.
Haar items was altyd met sorg en liefde verpak. Sy was ’n gevestigde en betroubare naam binne die verhuringsbedryf.
Ek onthou Aunty Rosy se uittog uit die hospice-saal soos gister: ’n “guard of honour” vanaf haar hospitaalbed, Al langs die lang gang af… familie en vriende wat sagkens en stil, haar laaste reis aangekondig het. Daardie oomblik was kosbaar—intiem en mooi.
Ons maand het afgesluit voor Oom Lodewyk (03.07.1945 – 26.01.2026) se huis—’n huis met ’n kleurvolle tuintjie wat hy self met trots versorg het.
Vroegoggend is ons begroet deur familie en vriende wat tannie Katriena ondersteun het, terwyl sy met 'n gebroke hart moes toekyk hoe ons haar maat van 35 jaar se oorskot verby haar gestoot het.
🌻 Januarie, het vir ons geleer dat die dood onverwags kom—dit kom sonder 'n waarskuwing, sonder toestemming...sonder genade.
Tog, tussen die trane en die stilte, het ons iets anders ook raakgesien - liefde wat nie ophou nie, families wat mekaar vashou, en ’n God wat selfs in die donkerste ure nog teenwoordig bly🌻
Liefde en Lig❣️