04/06/2023
Klim uit jou g*t!!! Leef die lewe
Ons almal was al in ‘n g*t. Ons grou g*te om in weg te kruip. In daai g*t is dit net jy. En jy grou.
So baie mense is g*t mense. Bedags doen hulle hulle ding, net om huistoe te gaan en in hulle diep donker g*t te gaan wegkruip.
Ons staan in rye by die apteke om ons voorskrif te gaan haal. Een pil vir slaap, een vir angs, een vir wie weet wat nog. Sonder ‘n hand vol van die gekleurdes kom ons nie verder as die voordeur nie.
Ek hoor soveel stories.
Mense wat nie meer die lewe stuurwiel kan vashou nie. Verpligtinge laat glip, nie meer lus het vir lag nie en ‘n paar wat sommer bly le. Die pikswart hond klop hard en aanhoudend by so baie van ons se voordeure. Dis mos ek wat die bus wil koop. Om almal op te laai. Sodat ons ver weg van die geraas in die oopte van die Karoo ‘n groot vuur kan maak. My hoop was nog altyd dat ieder en elke vrou haar ritme daar sal terugkry.
Hoe meer ek sien en voel, hoe meer weet ek dat ons dalk besig is met ‘n nuwe pandemie. Geestesgesondheid. Ek weet mense sukkel, te veel mense sukkel, in stilte.
Ek het gaan sit en vir myself ‘n lysie gemaak. Vir die dae as ek sukkel of iemand anders sukkel.
Loop kaalvoet. Oor gras en plaveisel in los grond en op die sand. Loop, tot jy regtig voel wat onder jou voete aangaan. Onthou jy toe ons klein was en die modder deur ons tone gewrimmel het. Dit vat dalk tyd, maar soms moet ons weer voel hoe voel modder voete.
Gooi jou foon in die laai. Disconnect jouself van ‘n wereld wat opdragte skree en drome skep wat jou laat voel jy is heeltemal niks. Connect weer met jou eie stem en jou eie drome. Tussen almal se geskree, wanneer laas het jy jou eie stem gehoor?
Gaan verdwaal. Wees heeltemal geheel en al selfsugtig. Pak jou kar. Ry. Ry tot daar waar jy wil uitklim en alles wil bekyk. Sonder ‘n GPS of enige plan. Gaan krap in klein winkeltjies, eet by ‘n vreemde plekkie en waai vir vreemde mense.
Kleur in. Jip, soos toe jy ‘n kind was. Koop vir jouself die mooiste inkleurboek wat jy kan kry. Gooi jou glas wyn, sluit jou voordeur en laat geel, groen, blou en rooi jou enigste prioriteit raak.
Skryf. Gryp ‘n boek en en pen. Begin by die eerlikste sin wat jy ken en begin net skryf. Sonder enige worry oor spelfoute of skewe sinne nie. Skryf sonder om jou hand op te lig, sin vir sin jou eerlikste woorde. Jou eerlikste self sal jy gewoonlik op papier ontmoet. Bere in ‘n laai of steek dit aan die brand.
Miskien, dalk werk dit. Die ver stap, die eerlike sin, die verdwaal of inkleur. Soms wil niks werk nie, dan vat ons sommer die inkleurboek saam g*t toe. Net om ons te herinner dat rooi, geel, groen en blou vir ons wag om dit raak te sien. Of ‘n eerlike sin deur een van ons kraaktjies glip. Dalk verdwaal jy so ver jy loop binne in jouself vas.
Of moddervoete kry reg om jou lag weer terug te nooi.
Sit aan die ketel
Kopiereg: Yolande Brittnell-Steyn
www.sitaandieketel.co.za
Kuns: Lisa Aisato