03/10/2025
'n MA IN DIE OUE TEHUIS …
Jare lank het ek my kinders, my alles gegee …
Vandag is ek oud en sit in my kamer …
Eensaam en alleen, wonder ek …
Waar is my kinders dan heen …
Nagedagtenis is teen die mure sigbaar …
Geplaas in foto rame met my kinders daarin …
As ek verlang, wend ek my tot my kamer muur ...
Waar die foto's van my kinders en kleinkinders,
Vir my met glimlaggende gesigte aanloer …
Die tyd het aan gestap, so het ek oud geword …
Ek wonder soms of ek ‘n las vir die kinders geword het …
Hier waar ek sit vandag, is my hart seer, ek verlang …
My kinders is te besig en gaan hul eie gang …
Vakansies kom nader, geen van my kinders in sig …
Dan vra ek myself onder meer wat het dan gebeur ...
Dis kerstyd en die kinders is oorsee …
Het hul dan net aanvaar ek is oud en vergete ….
Het die liefde vir ouers dan 'n las geword …
Is die liefde weg gebêre in klere kas …
Of het dit agter gebly in die vakansie tas …
Is dit nou net sigbaar in ‘n foto album …
Of in die foto raam op die kas, bedek met stof…
Is dit die dank wat 'n ouer moet ontvang …
Na jare se liefe gee en oordra …
Het ek nou 'n onbekende vreemdeling geword ...
'n Las vir die kinders en kleinkinders …
Of is ek net nog 'n statistiek van ma wees …
Die tye het gekom en het gegaan ...
As jy oud word is jy nie meer deel van hul bestaan …
My naam kom nie meer voor in hul woordeskat …
Ek is maar net nog 'n eensame moeder …
In die kamer, van die oue tehuis …
Sit ek met hartseer en wag …
Vir my laaste dag …