11/06/2025
𝐃𝐢𝐞 𝐖𝐚𝐠𝐤𝐚𝐦𝐞𝐫𝐬𝐚𝐠𝐞
Deur Liza Theunissen
Hoekom wag ‘n mens altyd só lank by die dokter? Ek het tog vooraf ‘n afspraak gemaak. Wat is dan die punt van ‘n afspraak as ek klaar gebel het?
‘n Vreemde spanning ontstaan wanneer jy die spreekkamer nader. Jy het betyds aangekom. Jy het jou plek bespreek. Tog is daar mense wat ná jou gekom het en vroeër verdwyn agter daardie geheimsinnige deur.
En jy wag.
"Dokter, ek wag al ‘n uur vir jou hier voor."
Hierdie woorde hoor ons as dokters en mediese personeel daagliks. En tog bly dit elke keer ‘n uitdaging om die regte antwoord te vind. Hoe verduidelik jy aan iemand wat wag en ongemak ervaar, dat hulle nie vergeet is nie? Moet ons dan maar net jammer sê en aangaan? Jammer dat jy wag. Jammer dat dit so lank neem. Jammer dat die wêreld van medisyne nie perfek pas in die tydgleuwe van ’n dagboek nie.
So, hoe kan ‘n mens dit regtig verduidelik?
Hoe verduidelik jy die onvoorspelbaarheid van mediese sorg — sonder om af te water wat dit beteken om regtig teenwoordig te wees vir iemand wat jou nodig het?
Dalk is dit tyd om ‘n bietjie lig te werp op wat agter daardie geslote spreekkamerdeur gebeur — wat ons as dokters daagliks sien en beleef, en hoekom die wag soms langer is as wat jy verwag.
Wanneer ek as dokter by ‘n pasiënt sit, sien ek nie net ‘n siekte of ‘n simptoom nie.
Ek sien ‘n storie wat ontvou.
Ek hoor ‘n stem wat huiwer, oë wat skuilend vra.
Ek sien ‘n ma wat uitputting in haar skouers dra omdat haar kind al vier nagte nie slaap nie.
‘n Jong mens wat stil-stil vrees oor ‘n knop of ‘n pyn probeer wegsteek.
‘n Bejaarde man wat eers oor sy rugpyn kla, maar later stilletjies noem dat sy vrou gister oorlede is.
‘n Oupa wat sy asem verloor, maar nie wil kla nie.
Wanneer ek by ‘n pasiënt sit, sien ek nie net ‘n siekte nie — ek sien ‘n mens.
Emosionele pyn nog te meer.
Daardie "tien-minute" konsultasie raak dan vinnig twintig, soms dertig minute. Want pyn maak nie vinnig klaar nie...
En ek kan nie net opstaan en sê: “Jou tyd is om,” nie.
Pyn, verlies, angs — dit hou nie by die horlosie stil nie.
Wat gebeur agter die deur?
Ons meet, ons vra, ons ondersoek — maar meer nog, ons luister. Nie net na longe en harte nie, maar na dit wat NIE gesê word nie. Na die swye. Na stiltes tussen sinne. Na die dinge wat mense nie durf sê nie. Die trane wat teruggehou word. Die knik van ’n kop in plaas van woorde.
Medisyne is nie net behandeling nie —
dis teenwoordigheid, dis deernis, dis moed om langer stil te bly... waar ’n mens dalk vinnig wil aangaan.
Ek moet onthou dat elke liggaam wat voor my sit, aan iemand behoort wat liefgehê word. Iemand se kind. Iemand se ouer. Iemand se hele wêreld.
En soms, heel onverwags, breek iemand voor my. Trane loop. Vrae kom. Vrees word sigbaar. En ek wéét: ek kan nie net ’n voorskrif gee en aangaan nie. Hierdie mens het my volle teenwoordigheid nodig. So ek bly.
En ja — dit beteken iemand wag. Jy wag.
Maar, my wagkamer-mens, weet asseblief:
daardie selfde aandag, daardie selfde empatie en tyd, wag ook vir jou.
Wanneer jy voor my sit, gaan ek nie kyk hoeveel minute jy al neem nie. Ek gaan luister. Ek gaan vra. Ek gaan probeer verstaan. Want in hierdie beroep is ’n mens nie net ’n dokter nie — jy is ’n getuienis van hoop, van medemenslikheid, van beskikbaarheid.
Ek weet, jy sien dit nie altyd nie. Jy sien net die wagkamer. Die tik van die horlosie. Die draaie van tyd wat soos koue hande aan jou geduld trek. En ek weet — dit vra baie van jou.
Maar die rede vir die wag is nie nalatigheid nie — dit is toewyding. Dit is die koste van sorg, nie die gebrek daaraan nie. Soms is dit ‘n mediese noodgeval. Soms is dit ‘n moeilike diagnose. Soms is dit net ‘n mens wat vandag nie in tien minute inmekaar pas nie.
As jy gejaagd is, as jou tyd beperk is, vra asseblief vriendelik by die ontvangs. Ons sal altyd probeer help. Want elke pasiënt is belangrik. Nie een meer werd as die ander nie — net elkeen op sy eie unieke manier dringend.
Ons neem elke mediese behoefte ernstig op — ook joune.
Ons werk met mense, nie net met simptome nie.
Met stories. Met siele. Met angs en hoop, vrese en geloof.
My liewe wagkamer-vriend,
Dankie dat jy wag.
Dankie dat jy verstaan.
Dankie dat jy onthou dat wanneer jou tyd kom, jy nie net ’n naam op ’n lys is nie — jy is dan die mens wat ons volle aandag, ons volle hart, en ons beste sorg ontvang.
En as jy ooit wonder hoekom dit so lank vat — weet net: iemand voor jou het vandag net ‘n bietjie meer menswees nodig gehad.
Net soos jy eendag gaan.
As ’n laaste gedagte wil ek jou met dié laat:
Jou dokter is ook net ’n mens.
Ons mis etes. Die waterglas op die lessenaar bly leeg. ’n Badkamerbreek bly iets waarvoor daar eenvoudig nie tyd is nie. En iewers wag my eie kind vir my om terug te bel. My liggaam fluister al lank: “Rus, net vir ’n oomblik.” Maar my roeping antwoord sag, maar vasberade: “Nog nie nou nie. Daar is steeds iemand wat jou nodig het.”
Mediese sorg is nie net ’n beroep nie — dit is ’n roeping.
’n Passie. ’n Liefde vir mense.
Goeie mediese sorg vra kennis, maar ook fyn aanvoeling. Dis ’n vaardigheid wat in stilte geslyp word — in duisende gesprekke, waarnemings en beslissings.
En al is ons nie volmaak nie, bly die belofte staan: tot by my Hippokratiese eed sal ek alles binne my vermoë gee — met integriteit, empatie en toewyding.
Want jy, die mens voor my, verdien niks minder nie