20/06/2025
GOEIE TAALVERMOë maak ALLES MAKLIKER!
Wanneer jou kinders na stories luister, bou hulle 'n skatkis vol woorde (daarom noem ons dit WOORDESKAT) op in die taalarea in hulle breine wat later van tyd ingespan word om op elke liewe terrein van die lewe te help.
Teen die tyd dat jou kind in graad een in wiskunde te doene kry met woorde soos "halveer", "meer as", "ewe veel" en "verdubbel" - om maar 'n paar te noem - moes hy al op baie ander plekke en in baie verskillende soort sinne met hierdie konsepte te doene gekry het.
Wanneer jou kind stories luister gee jy hom die geleentheid om te hoor hoe woorde op baie verskillende maniere in baie verskillende sinne gebruik word. Op hierdie manier ontwikkel jou kind diepte begrip vir komplekse konsepte en begin hy agterkom dat woorde soos "halveer", "helfte" en "halwe" met mekaar verband hou.
Dieselfde beginsel geld in alle vakgebiede waarmee jou kind te doene gaan kry op skool. Indien hy die woorde wat in 'n nuwe leerarea gebruik word, al vantevore gehoor het, is sy begripvorming soveel meer omvattend. En hoe beter jy verstaan, hoe meer inligting behou jy met die eerste aanhoor...
Goeie taalvermoë gee ook aan jou kind die vermoë om wanneer hy self lees te ontleed wat hy lees en 'n aanvoeling te hê vir watter inligting belangriker is as die res. Soveel kinders kan nie opsommings maak nie omdat hulle eenvoudig nie oor genoeg diepte begrip beskik om die hoofgedagte uit te sonder nie. Hierdie is ook 'n funksie van goeie taalvermoë.
En wanneer jou kind vir juffrou 'n storie moet oorvertel, of van die naweek se nuus vertel of vir ouma en oupa van die vakansie wil vertel, het hy woorde nodig om homself mee te VERWOORD. Dit is ook 'n funksie van taalvermoë. En hoe meer woorde jou kind in sy koppie het, hoe makliker is dit vir hom om homself uit te druk. Wat meer is: wanneer jou kind na stories geluister het, het hy 'n luisterskat van goeie sinne wat hom kan help om sy eie uitmuntende en uitdrukkingsvolle sinne te formuleer.
WAT WERK NIE MET WOORDE NIE?
https://luistervinkstories-1.cloudstreamfunnels.com/
Kry Luistervink stories lidmaatskap by die skakel hier bo teen R77 per maand per gesin.