31/03/2026
Die Onsigbare Helde wat saam jou kind toer.
April-maand is SPORTTOERmaand en duisende kinders pak tasse met opgewondenheid, drome en hoop. Hulle sien die wedstryde, die vriendskappe, die bus/vliegritte, die AVONTUUR.
Maar agter elke span…is daar iemand wat alles dra.
’n Afrigter. ’n Onderwyser. ’n Opvoeder.
Iemand wat nie net afrig nie—
maar lei, beskerm, troos, organiseer, motiveer… en soms net stilweg dra.
Niemand sien die spanning wanneer jy saans rondrol en wonder:
“Het ek aan alles gedink?”
“Sal elke kind veilig wees?”
“Is ek genoeg vir hulle?”
Niemand voel die gewig van verantwoordelikheid wanneer jy weet:
Hierdie kinders is vir ’n paar dae in iemand anders se wêreld—
maar joune om te bewaar.
Niemand sien die stof in jou longe na ’n lang dag op bane/velde nie.
Die sweet wat jou klere deurweek. Die son wat jou vel brand.
Die moegheid wat jy saam met jou dra kamer toe…waar jy nog steeds beskikbaar moet wees.
Bittermin mense besef:
Terwyl jy vir ander se kinders sorg—
is jy weg van jou eie mense.
Jou eie huis. Jou eie rus.
Dat JY JOU EIE kinders se sporttoer MIS!!
En tog…doen jy dit weer en weer.
Nie vir applous nie. Nie vir erkenning nie.
Maar omdat jy omgee.
Omdat jy glo dat sport meer is as net wen en verloor—dit bou mense.
Dit vorm karakter. Dit skep kopfoto’s wat ’n leeftyd hou.
Hierdie April-vakansie sal duisende spanne op toer wees.
En saam met elke span…
sal daar iemand wees wat meer gee as wat ooit gesien word.
Aan jou, geagte Juffrou/Meneer, ons herken jou....
Ons waardeer jou.
Ons salueer jou.
WANT, ons SIEN JOU, elke DAG (en nag).
JULLE is ten-spyte-van mense....en nie as-gevolg-van mense nie...