24/02/2021
❤️❤️❤️❤️
Riglyne om 'n hoopvolle kind groot te maak.
Vir ons kinders is die lewe baie keer nie maklik nie. Hulle hoor van geweld, beleef dit soms, hulle toekoms ten opsigte van werksgeleenthede is baie onseker, sosiale druk is hoog en huislike omstandighede is dalk nie na wense nie. Hierdie dinge is meesal buite ‘n kind se beheer, maar hy moet daarmee saamleef.
Te midde van enige spanningsvolle gebeure, kan jy jou kind help om die verwagting te hê op positiewe gebeure of uitkomste.
PRAKTIESE WENKE
• Wees onvoorwaardelik lief vir jou kind. Sê dit, wys dit, skryf dit op briefies vir jou kind.
• Help jou kind om met die regte vriende om te gaan, vriende wat jou kind opbou.
• Verduidelik situasies aan jou kind, byvoorbeeld: mamma en pappa stem nie oor alles saam nie, maar ons werk ons verskille uit en is steeds baie lief vir mekaar en vir jou. Hierdie verduidelikings moet ouderdomsgepas wees, sodat jou kind spanningsvolle situasies verstaan.
• Hou aan om geduldig te wees wanneer jou kind moedeloos is. Hou aan om hom te motiveer en te ondersteun.
• Beklemtoon positiewe gebeure en jou kind se positiewe eienskappe.
• Jy as mamma moet self geloofspositief wees. Jou positiwiteit sal na jou kind toe oorspoel. Net so sal ‘n ouer se negatiwiteit en gebrek aan geloof en hoop op die Here ‘n kind negatief maak.
• Help jou kind om spesifieke, HAALBARE doelwitte vas te stel. In so geval lyk die oorkoepelende oogmerk nie so onbereikbaar nie. Wanneer jou kind dus ‘n doelwit bereik, gee dit weer hoop vir toekomstige doelwitte en uitdagings.
• As ouer, bid onophoudelik: vir jou kind, vir jouself en jou gesin. Ons het sy genade nodig om staande te bly in hierdie gebroke wêreld.
“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet 1: 3-4).