19/02/2026
Die Dieper Ondergrond Van Die Menslike Bestaan
deur Dr Jaco Naude
Kliniese sielkunde fokus op die gedagteprosesse, emosionele prosesse, gedragspatrone en sensasies wat in die brein plaasvind.
Gedagteprosesse verwys na die gedagtes wat ons d**k, en veral die persepsies of interpretasies van wat met ons gebeur. Baie sielkundige probleme ontstaan juis hier, waar foutiewe persepsies 'n reeks prosesse in die brein ontlok wat tot verskillende simptome lei.
Die gedagteprosesse of persepsies skep emosionele prosesse wat deur areas in die brein ge-interpreteer word. Die emosionele prosesse aktiveer weer gedragspatrone waarmee ons reageer op dit wat ons waarneem en beleef.
Hierdie funksies vind in die brein plaas en beinvloed ook ons liggaamlike funksies. As die omgewing as rustig en veilig ge-interpreteer word, het hierdie omstandighede 'n kalmerende invloed op die liggaam. Bloeddruk, hartklop en asemhaling normaliseer en 'n realistiese interaksie met die omgewing word ontwikkel.
Daarteenoor, as die omgewing as gevaarlik ge-interpreteer word, wek dit onder andere angs met gedragsprobleme wat 'n vlug-of-veg-reaksie tot gevolg het. Die pupille vergroot, hartklop en asemhaling versnel, en bloeddruk styg om meer krag aan die spiere te gee vir veg of vlug om te oorleef.
Al die liggaamlike reaksies word vinnig ontketen deur die gedagte- en emosionele prosesse wat 'n verhoging van adrenalien veroorsaak. Die adrenalien voltooi uiteindelik die biologiese reaksie op die psigiese prosesse en beinvloed die gedragspatroon.
Sensasies wat deel is van die psigiese proses van die brein, verwys na die oorsprong van 'n interessante groep psigiese probleme (of psigopatologie) wat as somatoforme versteurings bekendstaan. Daar is 'n hele reeks van hulle. Een daarvan boots byvoorbeeld 'n hartaanval na (al is die persoon se hart heeltemal gesond), ander manifesteer as pyne in die liggaam waarvoor daar geen mediese oorsaak is nie. Ons sal in 'n afsonderlike artikel daaraan aandag gee.
Omdat dit gaan oor prosesse wat in die brein plaasvind, is dit waardevol om kursories van die neurologiese aspekte van die brein kennis te neem.
Neurologie van die brein
Die brein is seker die ingewikkeldste orgaan in die mens se liggaam. Neuroloë en psigiaters het diepte kennis van hierdie funksies wat op vele wyses plaasvind en wat deur middel van 'n legio elektrochemiese prosesse gebeur.
Die neurosielkundige Louis Cozolino se boek The Neuroscience Of Psychotherapy. Building And Rebuilding The Humanbrain verduidelik wat tydens psigoterapie in die brein plaasvind. Die subtitel dui reeds op Cozolino se positiewe waardering van psigoterapie. Ek gaan 'n paar insigte uit die boek weergee oor die aktiwiteite in die brein wat invloed uitoefen op ons psigiese en liggaamlike ervarings. Ek doen dit met groot waardering teenoor Cozolino - sy werk het diepte aan my psigoterapie verleen.
Amygdala
Samestelling van die brein
Net na konsepsie, nadat die s***m die o**m binnegedring het, vind seldeling vinnig en eksponensieel plaas. Dit beteken twee selle word vier selle, vier word agt, 16, 32, 64, ensovoorts. Die eerste oorgaan wat gevorm word, is die brein. In hierdie vorming word genetiese materiaal oorgedra, nie net van die moeder en vader nie, maar ook van voorgeslagte.
Die boustene van die neurologiese sisteem is mikronklein neurone. 'n Neuron se funksie is om boodskappe te dra. Tussen die neurone is daar 'n opening wat die sinaps genoem word. Die sinaps is gevul met chemiese stowwe (byvoorbeeld serotonien) wat neuro-oordragstowwe genoem word. Hulle help om die elektriese lading, wat die boodskap dra, te versterk. Boodskappe in die brein word dus elektrochemies oorgedra van een neuron na die ander.
Na beraming is daar in die volwasse brein 12,000,000,000 neurone wat elkeen tussen 10 en 100,000 verbindings skep. Die totale aantal verbindings in 'n volwasse brein is dus byna onberekenbaar. Volgens Cozolino word in die eerste maand na konsepsie ongeveer 240,000 sinaptiese verbindings per uur in die baba se brein gevorm. Dan is die brain reeds gereed om naas die genetiese materiaal wat dit bevat, ook indrukke wat met die baba gebeur, te absorbeer. Laasgenoemde sal in 'n volgende uitgawe bespreek word.
Belangrike areas
Die brein neem die wereld en wat met ons gebeur deur ons sintuie waar. Die brein gebruik ons oë om te sien, ore om te hoor, ons neus om te ruik, ons mond en tong om te proe en ons vel om te voel. Ons sintuie is dus organe van die brein om ons lewe te onderhou.
In die brein is daar areas wat as die amigdala bekendstaan. Die brein se waameming deur middel van die sintuie word na die amigdala gestuur. Die emosies kan nog in die stadium intens en rou wees, en die gedagtes ongekontroleer.
'n Tweede groep areas, die hippokampus, modelleer hierdie emosies en gedagtes. Dit beteken die materiaal word sagter en realisties met betrekking tot die waargenome gebeurtenisse. Die gemodelleerde inligting word na verskeie areas in die brein gestuur vir 'n korrekte, rasionele respons op wat waargeneem is. Hierdie proses om waargenome stimulite modelleer om die regte response te gee, word die plastisiteit van die brein genoem.
Die funksies van die hippokampus kan deur erge trauma verswak word. Dit beteken dat foutiewe persepsies en rou emosies ongetem na areas in die brein gestuur word. Dit lei tot psigiese en sekere liggaamlike simptome wat in tegniese taal psigopatologie genoem word. Dit word met psigiatriese en kliniese terapie behandel.
Van die belangrike en interessante verskynsels sal in volgende uitgawes bespreek word, onder andere die materiaal wat voor en tydens geboorte 'n groot invloed op ons lewe kan uitoefen.