13/04/2026
Ons deel met julle die slegte nuus dat Ronelle aan die einde van die maand aftree. Ons gun haar die ekstra tyd saam met haar familie en veral haar kleinkinders.
Ronelle het vanaf die opening van die apteek onverpoos gewerk om die apteek as ‘n ware gemeenskapsapteek te vestig.
Julle sal kan getuig van haar werklike omgee. Dit was nie vir haar te veel moeite om opvolgoproepe te maak om na julle welstand te verneem, of om tuisbesoeke te doen, of medikasie na ‘n lang dag by julle huise af te lewer nie. Sy het oproepe deur die dag, maar ook die nag geneem. Sy het selfs soms, en wanneer nodig, die apteek in die middel van die nag gaan oopsluit. Sy het dit egter met graagte en met liefde gedoen.
Ons weet die gemeenskap gaan vir Ronelle mis, maar ons glo dat Welgevonden Apteek sal aanhou om vir julle, soos altyd, vriendelike en voortreflike diens in die toekoms te lewer.