22/09/2025
n Skaap se kop eet? Aikôna...
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dis nie 'n volksvreemde tendens vir my nie. In die Boesmanland, word jy groot met skaapkop en afval eet. Hier eet hulle die hele skaap net so op - van kop tot pens en sommer die hele pootjies ook, maar vir redes onbekend, kon ek myself nog nooit sover kry, om in 45 jaar, kans te sien om n skaapkop te eet nie. Ek meen? Come on. Hoe honger, of desperaat, moet n mens dan nou werklik wees om n Skaap se kop net so uhm....op te eet? Enige dier se kop op te eet, for that matter 🤔😳
So hoor ek, 2 dae voor my vertrek na Upington, dat Skaap se kop wag vir my. Blykbaar, heerlik voorberei (ek sal daarvan hou) en dat mens die oë ook eet....48 uur lank spook hierdie Skaap se kop by my. Kort-kort moet ek myself vermaan en reghelp: 'Nee René, dit kan nie so erg wees nie. Jy het grootgeword tussen skaapslag en afval.' ....maar elke kilometer in Upington se rigting het die Skaapkop al hoe meer op die voorgrond in my gedagtes getreë. Ag nee man, waarom sal mens n dier se oë wil eet? 'Rilleragtig.' Bly my slotsom.
Uiteindelik breek die oomblik aan wat Skaap se kop, op n wit bord, saam met net n mes, en n jammer-lappie vir my loer - met toe oë wat ingesink is. 'Dankie Vader tog, die oë is seker uitgehaal.' Baie groot was my verligting, want ek kon my eie kop, om die kop-eet kry, maar daai oog-eet storie het glad nie goed gesit nie. Ek bekyk die storie, draai die kop om en ruik eers daaraan. Oortuig daarvan dat dit wild gaan ruik soos afval of pens. Glad nie! Dit ruik heerlik! Amper soos skaaprib wat bros gebraai is. Skielik kyk ek die Skaap se kop vol in die gesig. Spierwit tandjies wat al hoe grooter begin lyk. Die onsekerheid of ek hierdie kan of wil doen ruk weer aan my maag. Die gasvrou beduie. 'Nee, man. Proe net. Begin by die bros velle bo die oog en teen die wange..' ....Goed. Ek duik in. Heerlik! Die vleis is sappig en baie geurig, met dieselfde grein en tekstuur as nekvleis. 'Indrukwekkend' bevestig ek dat hierdie nie net lekker is nie, maar waaragtig heerlik. Die tong ook. Glad nie pap en meelerig soos ek dit voorgestel het nie. Kort voor lank kraak al wat bene is in Skaap se skedel - dis amper soos kreef eet (net lekkerder) - om agter al wat beetjies is, amper soos n skattejag die delikate genot te vind.
Maar daar kom dit toe - die oog storie! Oog was al die tyd steeds daar. Die onsekerheid gryp my aan die keel. Ek kan voel hoe my maag draai. 'Wag, ek wys jou. Haal eers die lens uit.' Wat n verrassing! Glad nie slymerige jelly soos ek gedink het nie. Eerder meer die tekstuur soos vet. Oxtail se vet. Selfde met die lens. Baie, baie lekker.
En die Harsings? Die Skaap se mooi klein brein? Nou daai is n storie vir n ander dag. Uitgesoekte pallet-storie daai. Mens moet borshare hê - baie.
Sal ek weer Skaap se kop eet? Graag. Baie graag.